LUR hap na lug oor vrae oor boks
2009-11-20 09:21
Linda de Beer
Johannesburg - Die besteding van R15,6 miljoen oor vier jaar aan ses professionele bokstoernooie in Noordwes het die LUR vir sport, kuns en kultuur gister in die wetgewer na lug laat hap.
Grace Pampiri kon nie verduidelik hoekom haar departement soveel geld vir boks bewillig het terwyl die 12 sportkodes wat eintlik as prioriteit geoormerk is, sáám net sowat R9,37 miljoen ontvang het nie.
Chris Hattingh, provinsiale DA-leier en -LPW, het vroeër al vrae oor die bokstoernooie by die wetgewer ingedien.
Dit het toe uit Pampiri se antwoorde geblyk ’n groot deel van die finansiering het in die sak van Branco Milenkovic, bekende bokspromotor, beland.
Milenkovic het vroeër vanjaar vir die ANC se verkiesingsveldtog help betaal.
Pampiri is gister met vrae oor dié en ander uitgawes gepeper tydens die debat oor haar departement se jaarverslag vir die 2008-’09 boekjaar.
Volgens Hattingh het die LUR nie ’n bewering betwis nie dat haar departement die aktiwiteite gefinansier het van ’n kerk waarby familielede van haar glo betrokke is.
Sy het wel dié uitgawes, waarvoor nie begroot is nie, geregverdig deur te sê die departement is verbind tot “massadeelname” aan sport en kultuur.
- Beeld