Hartseer ná moord op leerder
2012-08-05 18:37
Johannesburg – Die LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal, Senzo Mchunu, het Saterdag sy medelye met die familie van ’n skoolseun wat in Umlazi doodgesteek is, betuig.
“Ons is diep geraak deur die skielike dood. Ons harte gaan uit na die familie, sy broers en susters en sy skoolmaats,” het ’n verklaring van Mchunu gelui.
Sy woordvoerder, Muzi Mahlambi, het gesê Mpendulo Mzulwini is Vrydag ná ’n rusie met twee oortreders by die Egagasini- sekondêre skool doodgesteek, waar hy ’n graad 12-leerder was.
Dit is nie duidelik waaroor die bakleiery gegaan het nie.
Die polisie was nie van die voorval bewus nie, het kapt. Thulani Zwane gesê.
Mahlambi het gesê Mzulwini is na die hospitaal geneem ná die voorval, maar hy het Saterdag aan sy wonde beswyk.
– Volg Nuus24 op Twitter.