LUR: 'Kind is nie ’n plek in skool gewaarborg'
2011-12-19 11:00
Johannesburg – Barbara Creecy, Gautengse LUR vir onderwys, soek ’n wen-wen-oplossing vir toelatingskwessies in haar provinsie.
Sy het gereageer op die onlangse hofuitspraak wat behels die onderwysdepartement en nié ’n skoolbeheerliggaam nie mag besluit wat die maksimum getal leerlinge vir ’n skool mag wees.
Die uitspraak is gelewer nadat die Rivonia Primary School se beheerliggaam die departement voor die hof gedaag het.
’n Amptenaar het beveel die skool moet ’n leerling inneem terwyl die beheerliggaam gemeen het die skool is reeds vol.
Sy het teruggekap na die skool se bewerings dat die ouers van die swart kind wat toelating gesoek het politieke verbintenisse het. Daar is ook beweer dat Creecy politieke begunstiging uitgeoefen het.
Volgens Creecy het die skool nie dié getuienis voor die hof gebring nie, maar die argument van begunstiging verskuif na een wat gegrond is op die “superieure regte” waar ouers wat geld insamel en tot skoolgeld bydra die reg het om die toelatingsbeleid te bepaal.
Sy het gesê sy het waardering en respek vir ouers wat tot hul kinders se onderwys bydra.
Verskeie werksessies is gehou en gesprekke is met beheerliggaam-organisasies oor die verskillende wette en regulasies gevoer.
“Die departement het ’n grondwetlike plig om vir elke leerling ’n plek in ’n Gautengse skool te vind.
“Dit beteken nie ’n leerling is ’n plek in ’n spesifieke skool van sy keuse gewaarborg nie, maar die reg op onderwys is gewaarborg.”
Sy het gesê leerlingtalle in Gauteng het die afgelope 17 jaar met 37% toegeneem. “Ondanks die regering se uitgebreide skoolbouprogram kan die 300 skole wat sedert 1994 gebou is nie die apartheid-agterstande suksesvol hanteer nie.
“ ’n Onlangse peiling het getoon sowat 200 skole is in Gauteng nodig. Gevolglik plaas dit nie net druk op voormalige model C-skole nie, maar op alle skole in gebiede waar immigrasie hoog is.”
Volgens Creecy is gebiede soos Tembisa, Ivory Park, Mamelodi, Olievenhoutbosch en dele van Ekurhuleni baie oorbevolk met meer as 1 200 leerlinge in laer- en hoërskole.
Sy het gesê omdat hulle bekommerd is oor klasgroottes word skole met bykomende plek versoek om ekstra leerlinge in te neem.
Skole word ook genader oor watter hulpbronne nodig is om aan die versoek gehoor te gee.
Volgens Creecy besef hulle dat om skole te vra om meer kinders in te neem ’n korttermyn-keuse is en dat om nuwe skole te bou ’n volhoubare oplossing is.
Creecy het gesê 30 nuwe skole sal in Januarie “afgelewer” word.
Sy het erken druk om toegang te kry tot sekere model C-skole kan toegeskryf word aan die swak prestasie van baie township-skole.
Om dit te verbeter, bestee die departement jaarliks sowat R2 miljard by 1 183 skole om geletterdheid en gesyferdheid by laerskole te verbeter en hoërskole te help om matrikulante met goeie uitslae te lewer.
Verlede jaar het 40% van matrikulante in Gauteng met universiteitsvrystelling geslaag.
Die Rivonia-skool gaan teen die hofuitspraak appelleer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld