LP’s vies oor moontlike klagte teen Chuene
2010-08-11 10:00
Volksblad
Kaapstad - ANC-LP’s was Dinsdag woedend omdat die geskorste president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), Leonard Chuene, moontlik siviel én strafregtelik aangekla kan word.
’n Forensiese oudit dui op beweerde wanbesteding, belastingontduiking en swak korporatiewe bestuur binne die federasie.
Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het Maandag gesê sy ondersoek na ASA segeldsake is afgehandel en sy finale verslag word Vrydag bekend gemaak.
Tugoptrede sowel as strafregtelike en siviele klagte gaan na verwagting aanhangig gemaak word teen individue wat in ASA se vorige bestuur gedien het, sowel as teen personeel, lui ’n Saskok-verklaring.
Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor sport, Butana Komphela, het Chuene Dinsdag vurig verdedig.
“Wat met Leonard gebeur het, is ’n bespotting van die gereg. Hy het nog nie die geleentheid gehad om enigiets te sê nie.”
Komphela is deur ander ANC-LP’s ondersteun wat in die parlement by ASA se interim-bestuur aangedring het op ’n verslag oor die skorsing van die vorige bestuur.
Die tydelike bestuur – gelei deur die Saskok-administrateur en bestuurslid Ray Mali – het gesê toe hulle in November oorgeneem het, is hulle met ’n skare skuldeisers gekonfronteer vir dienste van sowat R15 miljoen.
“Talle lêers – op papier en elektronies – was uitgevee of vernietig deur ASA se vorige leiers en daar was teenstrydighede in die finansies. Daarom is ’n forensiese oudit gedoen,” het Mali gesê.
Hy en die interim-bestuur is Dinsdag deur ANC-LP’s uitgetrap omdat hulle nie ’n verslag kon voorlê oor die oudit of wat gelei het tot die skorsing van ASA se vorige bestuur nie. Dié bestuur is geskors kort ná die sage rondom die hantering van die Caster Semenya-kwessie.
- Volksblad