KykNet beboet oor film met sekstonele
2011-05-04 14:41
Johannesburg – Die uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (BCCSA) het die DSTV-kanaal KykNet met R15 000 beboet nadat hy 'n film met sekstonele in gesinstyd uitgesaai het.
"Die tribunaal het in ag geneem dat dit die derde keer in twee jaar is dat 'n oortreding van dié aard plaasvind," het die BCCSA in 'n uitspraak gesê.
"Ná die eerste oortreding het die uitsaaier beloof om nie weer die oortreding te begaan nie. Die uitsaaier is toe net gewaarsku. Om te verseker dat die uitsaaier die nodige stappe doen om 'n soortgelyke oortreding in die toekoms te verhoed, het die tribunaal besluit om 'n boete van R15 000 op te lê."
Die BCCSA het twee klagtes ontvang nadat die film Hond se Dinges om 19:30 op 'n Vrydagaand uitgesaai is.
Die film is verkeerdelik op die Afrikaanse kanaal met 'n ouderdomsbeperking van 13PG geadverteer, terwyl die ouderdomsbeperking 16 is met waarskuwings van seks en naaktheid.
"Dit is 19:30 op 'n Vrydagaand, die gesin sit om 'n film te kyk en al wat ons kry is seks," het R. Rundle, 'n klaer, gesê.
"As daar regtig sulke films moet wees, hoekom dit nie laataand met die regte ouderdomsbeperking vertoon op 'n kanaal waar mens so iets verwag nie?"
"Ek is gewalg deur KykNet omdat ek gedink dit is 'n Afrikaanse kanaal wat ten minste een of ander morele standaarde het," het Rundle gesê.
Die kanaal het aan die BCCSA erken dat hy 'n fout begaan het deur die film met die verkeerde ouderdomsbeperking te adverteer en in gesinstyd uit te saai.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA