KykNET dagvaar Teazers
2009-12-01 01:06
Kaapstad – Die Afrikaanse kanaal kykNET het Maandag bekendgemaak dat hy die ontkleeklub, Teazers dagvaar vir die gebruik van die kanaal se kenteken op hul reklameborde om die klub se dienste te bemark.
Volgens die brief wat deur kykNET se prokureurs ingedien is, gebruik Teazers, “sonder enige goedkeuring, die naam kykNET wat nadelig is tot die karakter en reputasie van die gewilde kanaal en lei daarom tot die skending van ’n handelsnaam.”
Teazers se eienaar, Lolly Jackson het gesê dit is belaglik dat hy gedagvaar word. Hy het nie eens die kanaal ingedagte gehad toe hulle die reklameveldtog beplan het nie. Die hele doel van die advertensie is om die Afrikaanse mark te teiken.
"Die reëls by Teazers is dat jy kan kyk, maar jy mag nie vat nie en so het die slagspreuk “kyk net” ontstaan.
Dit het niks met die kanaal te doen nie,” het Jackson gesê.
kykNET se prokureurs het ook gesê dat die kanaal baie tyd, geld en moeite in die bevordering van die besigheid en sy dienste onder dié handelsnaam spandeer het. Daarom het hulle regte op die kykNET-kenteken.
Jackson sê egter die Afrikaanse kanaal soek net “gratis publisiteit”.
"As hulle wil hê ek moet die reklameborde verander, sal ek. Ek sal dit verander na ‘net kyk’. Kan jy jouself indink indien ek 'Teazers is OK, come check us out’, gebruik het. Ek sou deur OK en Checkers supermarkte gedagvaar word.”
“Dit is belaglik,” het Jackson gesê.
Haddad Viljoen, kykNET se bemarkingsbestuurder het gesê hulle dagvaar Teazers, omdat dit hulle plig is om hul handelsnaam te beskerm.
kykNET het Jackson tot Vrydag, 11 Desember tyd gegee om alle reklameborde met die kykNET-kenteken op, te verwyder.
-News24