Kwartmiljoen vir minister se hotel
2009-10-08 06:22
Lizel Steenkamp
Kaapstad – Belastingbetalers het bykans ’n kwartmiljoen rand opgedok sodat Nathi Mthethwa, minister van polisie, en sy sewe beskermers in een van Kaapstad se swierigste vyfsterhotelle kon tuisgaan.
Mthethwa het in Mei, Junie en Julie altesame 17 aande in die luukse Table Bay-hotel in die V&A Waterfront oornag terwyl daar opknappingswerk aan sy ampswoning gedoen is. Hy het in die presidensiële suite tuisgegaan teen R5000 per nag.
Boonop beloop die bykomende uitgawes bykans R8700.
Te oordeel aan die lys uitgawes is Mthethwa nie ’n man vir goedkoop maaltye nie. Net sy etes het amper R6000 gekos en die drankies R630.
Om sy blink pakke skoon te kry het ’n aardige R1000 beloop en R360 is vir ’n persoonlike skoonmaker betaal.
Die minister se amptelike selfoon was ook nie goed genoeg nie: Hy het byna R900 se oproepe van die telefoon in sy hotelkamer gemaak.
Dié rojale uitgawes te midde van ’n resessie en die regering se beloftes om uitgawes te besnoei, is gistermiddag bekend gemaak in antwoord op ’n vraag van me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP.
Luidens die antwoord wat deur die departement verskaf is, het ook mnr. Fikile Mbalula, Mthethwa se adjunk, een aand teen R3600 in ’n “superieur kamer” in dieselfde hotel deurgebring.
Die Table Bay-hotel het asemrowende uitsigte oor Tafelberg en Tafelbaai en is ’n luukse waarvan gewone sterflinge maar net kan droom.
Dié geluk het sewe polisiebeamptes verantwoordelik vir Mthethwa se persoonlike veiligheid egter te beurt geval.
Hul kamers was darem effens goedkoper en het gewissel tussen R2200 en R3600 per nag.
Net die kamers vir die sewe beamptes het die belastingbetaler R132 200 gekos en hul etes R2600, drankies R673 en wasgoed R2180.
Die hele rekening vir Mthe-thwa en sy entourage in dié tyd was R234 902.
Kohler Barnard het gisteraand vuur gespoeg en dit ’n “selfkoesterende daad” genoem in die lig daarvan dat die meerderheid Suid-Afrikaners hul sente twee keer omdraai om die resessie te oorleef.
“Hy kon in Akasiapark (die parlementêre dorp in Goodwood buite Kaapstad) gebly het nes die res van ons. Ek weet daar is huise wat oop staan. Of is hy te goed? Is hy beter as ons?” wou Kohler Barnard weet.
Mthethwa tel ook onder dié ministers wat uitspattige ampsmotors ná hul aanstellings aangeskaf het.
Hy word in twee BMW’s ter waarde van R1,36 miljoen–ingesluit die bykomende luukshede soos ’n sondak, sportvering en elektroniese sitplekverstelling–in Kaapstad en Pretoria rondgery.
- Beeld