Kurt span die seile met sy loslappie
2011-01-08 08:55
Johannesburg - “Ek weet ek het die regte persoon gekies.”
Só sê die sanger Kurt Darren oor sy donkerkop-bruid, Dunay Nortjé, met wie hy vandag afhaak.
Darren en Nortjé (26) gaan Saterdagmiddag voor uitgesoekte gaste op Darren se wildplaas naby Mookgopong (Naboomspruit) ewige trou aan mekaar sweer. Dit beloof om ’n groot partytjie te wees, met talle van sy kunstenaarsvriende wat die dag met hulle gaan deel.
“Ek’s baie opgewonde en sien verskriklik uit daarna. Dis ’n groot dag in ’n mens se lewe en ek weet ek het die regte persoon gekies,” het Darren gister gesê.
Darren het verlede jaar gesê Nortjé wou nie ’n groot troue gehad het nie. “Maar ek het al soveel mense in my lewe op my pad ontmoet... dis ’n baie spesiale dag in my lewe. Almal sê dis ’n girl’s special day en vir my is dit net so ’n spesiale dag.”
Steve Hofmeyr, Pieter Koen, Jannie Moolman, Dozi, Laurika Rauch en Gian Groen is ’n paar van die bekendes wat tot laataand gaan dans op sy plaas.
Gaste is gevra om nie kameras te bring nie.
- Die Burger