Kurrikulum word verander - nie geskrap
2010-07-06 14:26
Kaapstad – Die uitkomsgebaseerde onderwysstelsel (UGO) gaan nie heeltemal geskrap word nie, maar sal aangepas word om leerders se werkverrigting te verbeter, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Dinsdag gesê.
Motshekga het erken die ou kurrikulum het groot probleme veroorsaak en gesê haar departement is besig om die ontwerp en metodologie daarvan na te gaan.
“Ons het reeds veranderinge aangebring, maar sal dit op ‘n gereelde basis aanhou doen.”
Sy het in ag geneem dat die kurrikulum reeds twee keer hersien is sedert dit vir die eerste keer 12 jaar gelede geïmplementeer is.
Van die veranderinge in die stelsel sluit in die vermindering van die aantal projekte vir leerders.
Die departement het sedert die begin van die jaar ook die reël afgeskaf dat elke leerder ‘n portefeulje moet hê vir assesserings.
Dít kom nadat ‘n ministeriële komitee onderwysers se hulpkreet gesteun het dat hulle oorlaai is met administratiewe werk.
Die komitee het ook besluit om Engels saam met leerders se moedertaal aangebied sou word.
Motshekga het egter beklemtoon dat Engels nie jong leerders se huistale in laer grade sal vervang nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA