Kunstenaar wat ET as vark verf baklei vir sy vryheid van spraak
2010-05-16 07:29
Kaapstad - ’n Kunstenaar wie se uitbeelding van Eugène Terre’Blanche as ’n vark
groot opslae maak, is ontsteld omdat hy nie aan die land se debat mag
deelneem nie.
“Kunstenaars soos Zapiro spot met my president en
mense lag daaroor. As ek dan tekeninge maak van hoe ék die land sien,
word my skilderye verwyder.
“Waar is my vryheid? Ek is ’n
slagoffer hier!”
Mnr. Ayanda Mabulu (28) van Du Noon buite
Kaapstad moes drie skilderye waarop die vermoorde AWB-leier as ’n vark
uitgebeeld word, uit die Good Hope Art-organisasie se ateljee in die
Kasteel de Goeie Hoop verwyder. Dit sou deel vorm van ’n uitstalling
geborg deur Truworths, maar dit is vóór die opening afgehaal.
Mabulu
vertel dat hy deur Good Hope Art genader is om aan die
Truworths-uitstalling deel te neem.
“Kuns is my passie! Daar was
geen tema vir die uitstalling nie en ek wou dít wat tans aan die gang is
skilder. Boonop word ek geïnspireer deur my verlede en my mense se
verlede.
“Ek wil ook aan die jeug vertel presies hoe dinge gebeur
het sonder om dit met suiker toe te smeer.”
Mabulu sê hy vind
dit skokkend dat die ou landsvlag steeds by die Kasteel de Goeie Hoop
wapper.
“Dit maak my seer, want ek sien die littekens op mense
se gesigte wat veroorsaak is deur daardie vlag en die regering van
daardie tyd.”
Nadat hy Terre’Blanche se laaste onderhoud op
televisie gesien het, het hy besluit om hom as tema in sy kuns te
gebruik.
“Ek sien nie vir Eugène Terre’- Blanche of wit mense as
varke nie. Ek het immers respek vir álle mense. Die vark kon net sowel
’n hond of ’n koei gewees het. Die vark word as metafoor gebruik om die
vuilheid en pyn van die vorige regime te illustreer.”
Mabulu sê
hy kan nie verstaan dat mense élke dag verby die ou landsvlag in die
Kasteel loop, maar dan is hulle geskok in sy skilderye nie.
“Hoekom
word ek as swart man nie toegelaat om ook aan dié soort debatte oor ons
land en sy mense deel te neem nie? Ek word aangeval terwyl my enigste
wapen ’n verfkwas is.”
Hy het reeds die skilderye verkoop, maar
wou nie die naam van die nuwe eienaar óf die bedrag bekend maak nie.
Mnr.
André Barnard, organiseerder van Good Hope Art, sê die kunswerke is
verwyder omdat hulle besef het party mense mag dalk aanstoot neem.
“Ons
het wel positiewe terugvoer ook oor die kunswerke gehad, juis omdat
baie mense reken dis goeie kuns.
“Good Hope Art is altyd oop vir
die publiek, dis hoekom ons proaktief was deur dit eerder af te haal.”
- Rapport