Kunsmis te duur, sê landbou-unie
2009-11-19 07:49
Fanie van Rooyen
Johannesburg - TLU SA oorweeg dit om namens boere skadevergoeding weens “uitermatig hoë” kunsmispryse te eis.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van dié landbou-organisasie, het gister in ’n verklaring gesê ’n peiling word gedoen om vas te stel hoeveel boere na aanleiding van ’n forensiese ondersoek na verhoogde kunsmispryse, sowel as die bevindings van ’n mededingingstribunaal vroeër vanjaar, by sulke regsaksie betrokke sou raak.
“Uit die forensiese ondersoek en die tribunaal het dit geblyk gedurende die periode 1998 tot 2004 het Suid-Afrikaanse boere soveel as 35% te duur vir hul kunsmis betaal.”
Wat die meriete van die saak betref, is die bevindings van die mededingingstribunaal volgens Van Zyl deurslaggewend.
Wat die omvang van die skade betref, het hy gesê: “Dít kom basies op ’n eenvoudige berekening neer ten aansien van elke benadeelde boer se aankope van bepaalde produkte oor die betrokke periode.”
In opdrag van sy kongres gaan TLU SA volgens Van Zyl as koördineerder vir ’n moontlike gesamentlike aksie optree.
“Hoewel TLU SA hom nie as vyand van Sasol of enige kunsmismaatskappy beskou nie, moet hy die belange van sy lede en boere in die algemeen as prioriteit stel en dit is helaas so dat daar boere is wat die bedryf moes verlaat as gevolg van hoë insetkoste.
“TLU SA wil alle rolspelers in die landbou-omgewing vra om hierdie aangeleentheid onder die aandag van hul lede te bring.”
- Beeld