Kunshandelaar se lyk op wildplaas gevind
2011-06-06 09:26
Johannesburg - ’n Boer se lyk is op sy wildplaas in Blaauwbank buite Randfontein gekry sowat twee en ’n half jaar nadat sy vrou op dieselfde plaas vermoor is.
Die lyk van Frank Gaudin (73), wat in Kanada gebore is, is Saterdag omstreeks 17:00 in ’n gat op die plaas gevind.
Die plaas, African Artifacts Farms, is sowat 27 km buite Randfontein op die pad na Carletonville.
Gaudin was ’n bekende handelaar in Afrika-kuns.
Sy vrou, Sandra (56), is in Desember 2008 op die wildplaas deur twee Mosambiekse broers vermoor.
Hulle het haar oorval, verwurg en beroof.
Regter Gerhard Hatting het Teleo Valente Matimbe (25) in Januarie lewenslange tronkstraf weens die moord opgelê nadat hy in die Johannesburgse hooggeregshof skuldig bevind is aan moord en roof met verswarende omstandighede.
Matimbe se broer is steeds op vrye voet.
Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê Gaudin se bure het hom Vrydagoggend by die Randfontein-polisiekantoor as vermis aangemeld nadat hulle hom nêrens op die plaas kon kry nie.
Sy voertuie was steeds op die plaas.
Die polisie het ’n groot soektog begin.
“Die plaas en omgewing is gefynkam. Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum en inwoners van die omgewing het met die soektog kom help.”
Die soektog is Vrydag omstreeks 18:00 gestaak en Saterdagoggend hervat.
Die damme op die plaas is leeggepomp om te kyk of hy verdrink het.
’n Polisiehelikopter is ook ingespan.
Sy lyk is omstreeks 17:00 in ’n gat op die plaas gekry.
Na wat Beeld verneem, was Gaudin vasgebind en was lappe om sy kop gedraai.
Die polisie wou geen inligting gee oor wat tot sy dood gelei het nie.
“Die oorsaak van dood sal met die nadoodse ondersoek eers vasgestel kan word,” het Ernst gesê.
Paul Gaudin (34) van Vanderbijlpark, die enigste seun van die oorledene wat nou in Suid-Afrika woon, het gesê die familie is baie geskok en getraumatiseer.
“Niemand verdien om só dood te gaan nie.”
Hy sal sy pa as “’n harde en direkte mens, maar ’n goeie sakeman” onthou.
“Hy het die besigheid in 1973 van niks af begin nie en ’n suksesvolle onderneming opgebou.”
Gaudin se twee ander seuns uit sy tweede huwelik, Frank (37) en Michael (32), sal na verwagting môre uit Australië in Suid-Afrika aankom.
Gaudin word ook oorleef deur ’n seun, Mark, wat uit sy eerste huwelik gebore is.
- Beeld