Kubersindikaat steel R42 miljoen by Postbank
2012-01-15 11:30
Johannesburg – Die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) het 'n hoëvlak ondersoek van stapel gestuur nadat 'n kuber-sindikaat R42 miljoen oor die Nuwejaar-vakansie van Postbank gesteel het, het die Sunday Times berig.
'n Sindikaat wat na bewering kennis het van die poskantoor se inligtingstelsel het na bewering tussen 1 en 3 Januarie die geld gesteel.
Brian Dube, woordvoerder van die ministerie van staatsveiligheid, het bevestig dat die diefstal plaasgevind en 'n ondersoek na die voorval van stapel gestuur is.
"Wanneer 'n regeringsinstansie in gedrang is, sal die NIA betrokke wees en bystand bied," het hy gesê.
Postbank hou tans R4 miljard in deposito's en verwerk jaarliks miljoene rande in maatskaplike toelae.
Die bank het aan die koerant gesê sy kliënte word nie geraak nie, maar het geweier om verder kommentaar te lewer.
Die sindikaat het na bewering laat verlede jaar verskeie Postbank-rekeninge opgemaak en tydens die Nuwejaar-vakansietydperk toegang tot 'n werknemer by die Rustenburg-poskantoor se rekeninge verkry. Die sindikaat het toe deposito's uit ander rekeninge na dié van hom gemaak.
Oor die volgende drie dae is OTM'e in Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal gebruik om geld uit die rekeninge te onttrek.
Dié voorval kom drie jaar nadat Postbank meer as R15 miljoen spandeer het om sy stelsel vir opsporing van die bedrog op te gradeer.
'n Sekuriteitskenner het aan die koerant gesê ernstige vrae moet gevra word oor Postbank se interne stelsels.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA