Kroegstormloop – Talle slagoffers glo minderjarig
2011-01-01 16:28
Johannesburg – Meeste van die tien partytjiegangers wat op Oujaarsaand in ‘n Noordwes-kroeg dood is, was onder die ouderdom van 18, meen ‘n staatswoordvoerder.
“Meeste van die oorledenes was minderjarig,” het woordvoerder Lesiba Kgwele Saterdag aan Sapa gesê.
Die polisie wou egter nie die ouderdomme bevestig nie.
Kapt. Adele Myburgh het gesê nie al die slagoffers van die stormloop by die drinkplek Basotho in Ipelegeng is al geïdentifiseer nie, dus kon hul ouderdomme nie bevestig word nie.
Volgens Myburgh skat die polisie die oorledenes se ouderdomme tussen 18 en 25 jaar.
Daar is aanvanklik berig dat die slagoffers tussen 20 en 30 jaar oud was.
Volgens Myburgh het die stormloop by die ingang na die kuierplek se dansarea plaasgevind om 2:15.
SABC het vroeër berig dat ‘n onderonsie tussen klante tot die voorval gelei het, maar nie Myburgh of Kgwele kon dit bevestig nie.
Polisie ondersoek die saak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA