Krisis ná verkragting by hospitaal
2010-11-02 08:07
Volksblad
Bloemfontein - ’n Krisis met gesondheidsorg dreig in die Vrystaat nadat veral vroulike dokters in alle afdelings van die Pelonomi-hospitaal nou weier om ná die verkragting van ’n vroulike kollega snags in dié hospitaal te werk.
Hulle staak hul nagwerk in die afdeling pediatrie onmiddellik. Einde vandeesweek gaan dokters in alle afdelings ophou om snags in Pelonomi te werk.
Intussen wou die woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement Maandag by navraag weet waarom berading nodig is vir die personeel wat daardie nag saam met die slagoffer in die pediatrie-afdeling gewerk het.
Dit kom ná die wrede aanval op en verkragting van hul kollega die naweek in die hospitaal waar sy nagdiens in die kindersale gewerk het.
’n Groep geneeshere by die jeughof, waar die drie verdagtes Maandag verskyn het, het eenparig gesê hulle sál Suid-Afrika weens voorvalle soos dié verlaat.
In verskeie noodvergaderings het dokters wat in Pelonomi se afdeling pediatrie werk, besluit hulle gaan summier ophou om snags in dié hospitaal te werk.
Van Vrydag af gaan alle dokters glad nie meer snags in Pelonomi werk nie. Hulle dring daarop aan dat die pediatrie-afdeling sluit.
Hulle het dié besluit oorgedra aan prof. André Venter, hoof van pediatrie by onder meer Pelonomi, wat die Vrystaatse departement van gesondheid hiervan sal verwittig.
Pelonomi is die grootste hospitaal in die sentrale binneland en duisende armes word daagliks van Vrystaatse en Noord-Kaapse dorpe hierheen verwys.
“Al die afdelings voel só,” het ’n dokter Maandag gesê.
Alle dokters in die afdelings chirurgie, interne geneeskunde, ortopedie en trauma weier volstrek om verder snags hier te werk.
Hoewel dokters nie wettig kan staak nie, beroep hulle hulle op hul grondwetlike reg om in ’n veilige omgewing te werk.
Volgens die dokters is weinig aandag aan hul klagtes gegee sedert die aanval en verkragting Saterdag.
“Nie een van die sogenaamde belangrike mense is in Bloemfontein nie.
“Die hospitaalhoof is uitstedig, die LUR vir gesondheid, Sisi Mabe, is in Durban en die Vrystaatse premier in New York. Dis belaglik.”
Dokters van veral die pediatrie-afdeling voel sterk oor die sluiting van dié afdeling.
Die 35-jarige vroulike dokter wat verkrag is, is besig om as ’n pediater te spesialiseer.
Woedende dokters en verpleegpersoneellede van die Pelonomi- en Universitas-hospitaal het Maandag buite die jeughof vreedsaam hul solidariteit met die slagoffer betoon.
“Ons is woedend en bang.
“Ons mans het vir ons gesê ons mag nie meer daar werk nie.
“Geeneen van die hospitaalbestuur het tot vandag met ons kom praat nie.
“Daar is nie eens vir die personeel wat daardie aand in pediatrie gewerk het, berading gereël nie.”
Jabu Mbalula, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het by navraag gesê dis onnodig. “Waarom het hulle berading nodig?”
Met Volksblad se besoek Maandag aan Pelonomi was geen van die beloofde polisiereserviste teenwoordig nie.
“Daar gaan nie ’n dag verby sonder dat ons onder misdaad deurloop nie,” het ’n personeellid gesê.
Personeel én dokters is al met messe beroof wanneer hulle geld by die kitsbank trek.
Een van die senior geneeshere het gesê voorvalle soos die verkragting sal nie ophou nie, totdat die land se leiers ’n beter voorbeeld stel.
“Ons president word aangekla van verkragting en sy trawant sê die slagoffer het dit geniet,” het sy gesê in ’n duidelike verwysing na Julius Malema se uitsprake.
Volgens ingeligtes is die 35-jarige dokter en haar man nog erg getraumatiseer.
“Sy is fisiek en geestelik baie erg getraumatiseer.”
Die sestienjarige verdagte is aan die verpleegpersoneel bekend.
Die drie verdagtes het Maandag op aanklagte van verkragting en aanranding in die jeugregsentrum verskyn. Die verhoor is tot 9 November uitgestel en na die Bloemfonteinse landdroshof oorgeplaas.
- Volksblad