Krisis met brandstof dalk erger
2011-07-18 07:01
James-Brent Styan en Jacques Steenkamp
Johannesburg - Die brandstoftekort kan dié week “chaoties” raak met skole wat vandag heropen én werkers wat betrokke is by brandstofvervaardiging wat ook nou tot die staking toetree.
Indien die vervaardiging van brandstof gestaak word, kan dit sekondêre druk op reeds vuisvoos motoriste plaas.
Duisende motoriste het die naweek geskarrel om hul voertuie se brandstoftenks vol te kry. Lang rye motors het by vulstasies gestaan en sommige motoriste het bykomende houers met brandstof gevul om te voorsien vir die week se ryery.
Talle vulstasies in Johannesburg en Pretoria moes motoriste wegwys omdat daar geen brandstof meer beskikbaar was nie.
Reggie Sibiya, uitvoerende hoof van die brandstofkleinhandelaarsvereniging (FRA), het Sondag gesê teen Vrydag het meer as 200 vulstasies in Gauteng en 50 vulstasies in KwaZulu-Natal reeds drooggeloop. Van dié vulstasies is reeds ses dae sonder brandstof.
“Die probleem wat ons nie verlede week gehad het nie, is die kinders wat vandag terugkeer skole toe. Mense was by die kus met vakansie, waar daar nog petrol beskikbaar was, maar ons het ’n groot tekort in die binneland. Dit kan ’n baie groot agterstand veroorsaak,” het Sibiya gesê.
Die brandstofkrisis kan verder verdiep nadat die vakbond Solidariteit gister besluit het om hom by die staking aan te sluit.
Dr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê die staking van Solidariteit-lede sal hoofsaaklik Sasol en PetroSA raak.
“Ons lede is betrokke by die vervaardiging van brandstof. Waar Suid-Afrikaners tot dusver slegs probleme ervaar het om brandstof by vulstasies te kry, sal ’n mens nou vind dat daar nie langer brandstof vervaardig gaan word nie.”
Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse petroleumbedryfsvereniging (Sapia), het gister bevestig Solidariteit se toetrede tot die staking kan ’n impak op brandstofproduksie hê.
“Ek het gehoor daar is sprake dat hulle produksie gaan stop, maar dit is nog nie bevestig nie. ’n Sekere aantal werkers moet weens veiligheidsredes by die produksieproses betrokke wees.
“Ons weet nie hoeveel van Solidariteit se lede hulle by die staking gaan aansluit nie,” het Tshifularo gesê.
Sou genoeg lede staak, het hy verduidelik, kan dit die produksie van brandstof tot stilstand ruk. “Ons land gaan in chaos wees as dit wel gebeur,” het Tshifularo gesê.
Intussen het die brandstoftekort nie net ’n impak op gewone mense nie, maar word nooddienste ook daardeur geraak.
Jeffrey Wicks, Netcare 911-woordvoerder, het gesê in die Vaaldriehoek moet hul paramedici uit die gebied na onderskeidelik Deneysville of Alberton ry om diesel te kry.
“Ons het nog geen voorvalle gehad waar ’n ambulans sonder brandstof gaan staan het nie, maar dit is ’n stryd om dit te voorkom,” het Wicks gesê.
Volgens hom is daar wel vulstasie-eienaars wat “duisende liters diesel” spesiaal uithou vir die nooddienste se gebruik.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê sodra hul voertuie se brandstoftenks minder as half vol is, vul hulle op. “Ons moet wyd ry vir brandstof. Ouens wat naby Sandton gebaseer is, ry Magaliesburg en Krugersdorp toe vir brandstof.”
Vermaak het gesê hy vermoed die probleem kan van vandag af “ernstig raak”.
- Volksblad