Krisis dreig as hospitale se personeel staak
2010-08-10 09:05
Volksblad
Bloemfontein - ’n Krisis dreig Dinsdag by staatshospitale in verskeie provinsies indien verpleegsters en hulppersoneel besluit om te staak.
Meer as 1,3 miljoen staatsdienswerkers begin Dinsdag met ’n landwye staking, nadat die regering geweier het om toe te gee aan hul looneise.
Hoewel verpleegsters nie mag staak nie, omdat hul werk as ’n noodsaaklike vaardigheid geklassifiseer is, is daar sprake dat sommige van hulle wel Dinsdag aan die landwye optogte sal deelneem en hulle dus nie vir werk sal aanmeld nie.
Noel Desfontaines, hoofsekretaris van die Health and Other Services Personnel Trade Union of South Africa (Hospersa), sê die vakbond het hul lede aangeraai om nie aan die staking deel te neem nie.
Lede uit sommige provinsies het egter laat weet dat hulle nie op dié waarskuwing sal ag slaan nie, en wel sal staak.
Die provinsies is die Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en Vrystaat.
Volgens Desfontaines verteenwoordig Hospersa ongeveer 9 000 lede in die Vrystaat. Die getal sluit nie lede van ander vakbonde, wat onder die vaandel van Cosatu is, in en dalk ook Dinsdag sal staak nie.
Sou verpleegsters in die Vrystaat wel Dinsdag begin staak, sal veral die Nasionale , Pelonomi- en Universitas-hospitaal in Bloemfontein erg geraak word. Klinieke regoor die provinsie sal ook nie sonder die werkers kan funksioneer nie.
Volksblad kon nie Maandag kommentaar van die departement van gesondheid kry oor watter maatreëls getref is indien die verpleegsters wel sou staak nie.
Lede van Cosatu en ander vakbonde wat by die Onafhanklike Arbeidskoukus (Independent labour caucus) geaffilieer is, beplan Dinsdag massa-optogte in al die groot sentra landwyd.
Dit kom nadat hulle en die regering nie tot ’n vergelyk oor loonverhogings kon kom nie.
Die vakbonde het Vrydag die besluit geneem ná weke se onderhandelinge waarin die regering geweier het om in te stem tot ’n verhoging van 8,6% en ’n behuisingstoelae van R1 000 per maand.
Die regering het Donderdag sy finale aanbod van 7% – 0,5% meer as sy vorige aanbod – en ’n onveranderde behuisingstoelae van R630 ter tafel gelê. Al die vakbonde het die aanbod verwerp.
Vakbondlede in Bloemfontein begin vanoggend om 09:00 by die ou Ramskraal-gevangenis in Dr. Belcherweg na die Lebohang-gebou stap waar hulle ’n memorandum aan ’n verteenwoordiger van Richard Baloyi, minister van die staatsdiens en administrasie, sal oorhandig.
Ander groot optogte vind ook in Pretoria, Durban, Kaapstad en ander groot stede plaas.
Die memorandum beskryf die regering se aanbod as “onredelik”, veral as dit vergelyk word met verhogings wat ander staatsinstellings se werkers ontvang het.
Hulle noem spesifiek die verhogings van 10% tot 13% wat aan werkers van die Vereniging vir Plaaslike Owerhede (Salga) toegestaan is.
Luidens ’n verklaring wat deur die vakbonde uitgereik is, sal die regering 24 uur kans gegun word om aan hul eise te voldoen.
Hoewel die staking net vir Dinsdag beplan is, sal die vakbonde later hul verdere planne bekend maak, afhangend van die regering se reaksie.
- Volksblad