‘Krisis? Hier is geen krisis!’
2012-01-21 08:39
Polokwane – Die ANC in Limpopo het die nasionale regering Vrydag aangevat ná die aankondiging dat dié provinsie van sy uitvoerende mag gestroop word.
Daar is geen krisis nie, net “finansiële uitdagings”, het Soviet Lekganyane, provinsiale sekretaris van die ANC in Limpopo, op ’n nuuskonferensie gesê.
Die provinsiale ANC is volgens hom teleurgesteld dat die nasionale regering nie behoorlik met hulle gekommunikeer het nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat sekere kamerade op podiums klim en uitsprake oor partylede op verskillende vlakke van die organisasie maak.”
’n Groep ministers het die oorname van die administrasie Donderdag op ’n nuuskonferensie in Polokwane aangekondig.
Toe vyf provinsiale departemente laat verlede jaar onder administrasie geplaas is, was die provinsie nie naby ’n ineenstorting nie, het Lekganyane gesê.
Die ouditeur-generaal (OG) het bevind daar is landwyd R21 miljard waarvoor daar nie verantwoording gedoen kan word nie.
“Dit wys dat ander provinsies in dieselfde posisie as Limpopo is. As daar ’n behoefte is dat ondersoeke gedoen moet word, moet dit na 1999 teruggevat word.”
Om te sê regeringsamptenare wil die nasionale ingryping saboteer, soos wat Pravin Gordhan, minister van finansies, Donderdag gesê het, is volgens Lekganyane ernstige aantygings.
“Ons glo nie enige persoon wat in diens van die regering is, sal so ’n insinking van professionele standaarde hê nie.”
Gordhan het gesê spesiale howe sal in werking wees om op te tree teen diegene wat glo vir die finansiële gemors verantwoordelik is.
Daaroor het Lekganyane gesê: “Daar moet eers prima facie-bewyse wees voordat iemand in ’n hof verhoor word. Ons verwag nie van die minister van finansies om te weet hoe die howe werk nie.”
- Die Burger