Kriegler vat RDK hof toe
2009-09-17 17:20
Johannesburg - Johann Kriegler, voorsitter van die Freedom Under Law (FUL), ’n onafhanklike regsorganisasie sonder winsbejag, gaan 'n aansoek in die hooggregshof bring om die Regterlike Dienskommissie (RDK) se besluit oor regterpresident John Hlophe te hersien.
Dokumente sal na verwagting volgende week by die hof ingedien word.
Die FUL het Donderdag in 'n verklaring gesê die RDK het nie op 'n brief wat aan hulle gestuur is, reageer nie.
Die brief versoek skriftelike redes waarom die RDK die saak teen Hlophe laat vaar het.
"Die FUL het nog geen reaksie van die RDK ontvang nie, en gaan oor tot die volgende stap," het die FUL gesê.
Dié brief is op 10 September aan Lex Mpati, waarnemende voorsitter van die RDK, gestuur en die RDK is tot 15 September kans gegee om op die brief te reageer.
Kriegler het verlede week in 'n onderhoud met Mail&Guardian gesê die RDK het ‘n vraagteken oor John Hlophe laat hang deur hom nie onder kruisverhoor te plaas nie.
“Die aanklagtes teen Hlophe is van die ergste wat jy teen ‘n regterlike amptenaar kan maak – om die integriteit van die hoogste hof in die land te ondermyn,” het Kriegler, voormalige regter van die konstitusionele hof en ‘n stigterslid van die FUL, aan die Mail&Guardian gesê.
“Ek weet nie of die aanklagtes waar is of nie.
“Al wat ek weet is dat die RDK dit nie wou ondersoek nie en dit was die basiese fout.”
“Dit los ‘n vraag bo sy kop en ek weet nie hoe hy sy kollegas in die oë sal kan kyk nie,” het Kriegler gesê.
Sy opmerkings verwys na die aanklag deur die RDK dat Hlophe wou inmeng in ’n uitspraak van die konstitusionele hof rakende Jacob Zuma voordat hy president geword het.
Hlophe het weer beswaar gemaak teen die feit dat die regters hul aantygings publiek gemaak het nog voordat Hlophe daarop kon reageer.
Na ‘n voorlopige verhoor het die RDK besluit om die saak daar te laat, en Hlophe is na ‘n ruk op spesiale verlof terug werk toe.
– Sapa