Krejcir-regsman kry inderdik teen konsultant
2011-06-07 14:59
Johannesburg – Die hooggeregshof in Johannesburg het Radovan Krejcir se regsverteenwoordiger se interdik teen die sekuriteitskonsultant Paul O'Sullivan toegestaan.
Ingevolge 'n ooreenkoms tussen die partye moet O'Sullivan die regsverteenwoordiger, Piet du Plessis, sy familie en die direkteurs van die regsfirma David H Botha, Du Plessis en Kruger om verskoning vra vir 'n e-pos wat hy in Maart aan hulle gestuur het.
Die hof het in April 'n tydelike bevel in Du Plessis se guns toegestaan. Du Plessis het gesê O'Sullivan, wat betrokke was in die ondersoek teen Krejcir, het hom in 'n e-pos met geweld gedreig.
Albei partye moet hul eie regskostes betaal.
Krejcir (42) word aangehou op aanklag van bedrog en word in verband met 'n reeks moorde ondersoek. Dít sluit in die moord op die leiersfiguur in die onderwêreld, Cyril Beeka, wat in April in Kaapstad vermoor is.
'n Moordlys is na bewering tydens 'n klopjag op Krejcir se huis in Bedfordview, Johannesburg, gevind. Op dié lys was die name van Beeka, O'Sullivan, die staatsaanklaer Riegal du Toit en 'n dokter wat 'n ooreenkoms met die staat aangegaan het om in die bedrogsaak teen Krejcir te getuig.
Die aanklag van bedrog hou verband met 'n versekeringseis van R4,5 miljoen wat Krejcir ontvang het nadat hy mediese dokumente wat wys hy het kanker, ingedien het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA