Krejcir-bedrogverhoor begin volgende jaar
2011-10-11 10:38
Johannesburg – Die bedrogverhoor van die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir sal in April aanstaande jaar in die Johannesburg-landdroshof begin.
Landdros Philip Venter het Dinsdag gesê hy is tevrede dat al die partye gereed is om voort te gaan.
Venter sal op 6 Desember met Riegal du Toit, staatsaanklaer, en Eddie Classen, regsverteenwoordiger vir die verdediging, vergader om alle kwessies wat verband met die voorverhoor te finaliseer.
Die verhoor sal vanaf 16 tot 20 April plaasvind.
Die 43-jarige Krejcir se borgtog van R500 000 is verleng.
Die aanklag van bedrog teen hom hou verband met sy versekeringseis van R4,5 miljoen nadat hy mediese dokumente, wat toon hy het kanker, aan die versekeringsmaatskappy oorhandig het.
Marian Tupy, sy uroloog, het voorheen erken dat hy versekeringsdokumente vervals het sodat die maatskappy Krejcir kon uitbetaal vir blaaskanker.
Tupy is sewe jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, opgelê as deel van 'n pleitooreenkoms in ruil vir sy getuienes teen Krejcir.
Krejcir is in die Tseggiese Republiek in absentia tot ses en 'n half jaar tronkstraf gevonnis vir belastingbedrog en is ook aangekla van sameswering om moord te pleeg, uitbuiting en ontvoering.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA