Krapmerke aan tiener se nek ná Griekwastad-moorde
2012-08-24 13:30
Kaapstad – Die staat het bewyse in die Griekwastad-kinderhof voorgelê in verband met die opspraakwekkende moord op die Steenkamp-egpaar en hul dogter.
Sapa berig die staat het dokumente, wat ‘n 22 bladsy lange beëdigde verklaring, foto-albums en verslae van deskundiges insluit, aan Willem Coetzee, die moordverdagte se regsverteenwoordiger, oorhandig.
Jacques Steenkamp, ‘n verslaggewer vir Rapport, het vanuit die hof oor die verrigtinge getweet.
Hy sê kol. Dick de Waal, ‘n ondersoekbeampte, sê daar was verskeie bloedspatsels op die minderjarige seun wat vroeër vandeesweek in verband met die moorde in hegtenis geneem is. Die tiener het ook krapmerke aan sy nek gehad.
Volgens De Waal was daar geen “vreemde DNS” op die twee vuurwapens wat gebruik is, gevind nie.
De Waal sê meer as 72 DNS-monsters is getoets omdat dit 'n hoë-profiel saak is. Gewoonlik word net drie monsters getoets.
Daar is volgens De Waal direkte bewyse dat die minderjarige seun by die moorde betrokke was.
Steenkamp berig die ondersoekspan het reeds 64 verklarings geneem en daar is meer as 40 ander getuies wat hulle nog kan gebruik.
Deon, Christelle en Marthella Steenkamp is vroeër vanjaar op Goeie Vrydag op hul plaas Naauwhoek doodgeskiet.
Volgens die polisie het die enigste oorlewende van die gesin, Don, gesê hy was buite in die pakskuur toe hy die skote gehoor het.
Hy het die huis binnegehardloop en op sy ouers en susters se lyke afgekom. Daarna het hy die moordwapens na die polisiestasie geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24