Kraglose Kroonstad steier wéér
2011-09-14 08:53
Kroonstad – Inwoners van dié dorp se moed was Dinsdag, op die vyfde dag sonder elektrisiteit, baie laag en sakemense sê dié krisis kos hulle derduisende rande.
Die Moqhaka-munisipaliteit word deur eise van miljoene rande in die gesig gestaar. Nie net gaan inwoners in ’n klasaksie van die raad eis vir verliese nie, die meeste groot sake-ondernemings het Dinsdag reeds met regstappe begin.
Kobus Geldenhuys, hoenderboer, het sy prokureur opdrag gegee om ’n eis teen die munisipaliteit in te dien.
Geldenhuys moes nog ’n kragopwekker ter waarde van nagenoeg R280 000 gaan koop om sy sakebedrywighede te kan voortsit. Hy het nou twee kragopwekkers wat R350 se petrol per uur gebruik.
Dit moet onder meer sy 200 000 lê-henne aan die lewe hou en die fabriek waar die eiers verpak word aan die gang hou.
“Ek het nog nie hoenders verloor nie, maar as die omgewingsbeheerde hokke vir een uur sonder elektrisiteit is, sal die hoenders begin vrek.”
Steven van der Westhuizen, bekende sakeman op die dorp en eienaar van die Fleurdal Pick ’n Pay, sê hy is woedend. Hy moet duisende rande se vars vrugte en groente weggooi omdat dit bederf raak.
“Niemand kan vir ons sê wanneer die krag weer aangeskakel gaan word nie. Hoe moet ek beplan en bestellings plaas?”
Hy het reeds met die vorige kragonderbreking ’n paar weke gelede meer as R100 000 se skade gely. “Ek is nog besig om daardie eis teen die munisipaliteit uit te sorteer en hier gebeur dit al weer.
“Ek het massiewe verliese. Die groot kragopwekker kos my R11 000 per dag.”
Henk van der Walt, ’n rekenmeester van Kroonstad, sê hy is bekommerd oor die langtermyn-gevolge van dié kragonderbrekings. “Dit raak die waarde van eiendom en skrik beleggers af. Ek weet van sakemense wat uitbreidings op Kroonstad wou doen, maar nou twee keer dink.”
Hy sê die nasionale regering sal moet ingryp.
Een van die inwoners, wat anoniem wil bly, sê mense is baie negatief en sien nie ’n toekoms op die dorp nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad