Kovies-betogers in hof
2011-08-19 07:00
Bloemfontein - Die ANC-jeugliga en die studente-organisasies Sasco en Cosas het ’n uitgebreide veldtog begin om prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), uit die stoel te lig.
Dié organisasies het Donderdagaand op ’n nuuskonferensie Jansen en sy “leliewit raad” daarvan beskuldig dat hulle swart studente intimideer en met “enigiemand afreken wat afwyk van hul agenda”.
Paseka Mokoena, wat namens die UV se transformasieforum gepraat en ’n UV-baadjie gedra het, het gesê: “Jansen is nie die probleem nie; wit heerssugtiges is die probleem”.
Mokoena was die koshuishoof van die Villa Bravado-koshuis wat geskors is nadat die video oor die ontgroening van wit huislede aan die lig gekom het.
Dié groep het ’n dag ná die chaotiese onrus op die UV-kampus, waarin Jansen glo ontvoer moes word, aangevoer dat swart studenteleiers op die kampus “geviktimiseer” word. Die “bewys” wat die jeugleiers hiervoor aanvoer, is dat hulle ná hul protesoptrede verlede jaar met die intervarsity op die UV-kampus in hegtenis geneem en geskors is omdat hulle die netbalwedstryde ontwrig het.
Hulle het verwys na hoe die “enigste senior swart bestuurder” en “reus van transformasie”, prof. Ezekiel Morake, behandel is. Hulle het aangevoer ongekwalifiseerde en onervare wittes word aangestel ondanks die beskikbaarheid van gekwalifiseerde swartes.
Vroeër Donderdag het 60 “studente” weens openbare geweld in die landdroshof in die stad verskyn, ná die oproer Woensdag op die kampus. Hulle het voor die hof getoi-toi totdat die polisie hulle gewaarsku het. Verskeie voormalige SR-lede van die UV, soos Brandon Bosch, ’n vorige SR-lid vir sport, was by die hof.
Manyene Lesapo, Vrystaatse Sasco-voorsitter, het voor die hof gesê hulle gaan met hul optrede teen die UV volhard totdat Jansen uitgeskop word. “Selfs al is ons in die tronk, sal ons steeds ons lede mobiliseer om aan te hou met protesaksie totdat Jansen nie meer rektor by die UV is nie.”
Sowat 100 betogers het singend en dansend in afwagting op hul mede-betogers se verskyning voor die landdroshof-gebou saamgedrom. Ná ’n waarskuwing deur die polisie oor hul onwettige optrede het hul in groepies op die trappe van die gebou sonder enige sang en dans gesit en wag. ’n Sterk polisieteenwoordigheid het buite die hofsaal geheers terwyl die 60 beskuldiges voor landdros O. Majozi verskyn het.
Kgotso Morapele, Vrystaatse leier van die ANC-jeugliga, het ná die hofverrigtinge aan die skare gesê hoewel hulle aan die wet gehoor moet gee, is hul agenda duidelik. Morapele het verder volgehou dat die 60 beskuldigdes en die skare buite die hof almal studente is.
Een van die beskuldigdes, Doctor Kamele, wat sê hy is die hoof van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) in die Vrystaat, het gesê die SARK, Sasco, ANCJL en die Jong Kommuniste-liga het hande gevat sodat verandering by die universiteit sal plaasvind.
Hul verhoor is tot 15 September uitgestel.
Die 60 beskuldigdes is op waarskuwing vrygelaat.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad