Kouefront tref SA
2011-07-29 13:13
Johannesburg – Baie koue weerstoestand het Vrydag oor die land heen voorgekom, het die Suid-Afrikaanse weerdiens gesê.
Puseletso Mofokeng, ‘n weervoorspeller, sê dit het in Bloemfontein gereën en die kouefront – wat reeds Gauteng en die Kaap getref het – is ook besig om die Laeveld van Limpopo en Mpumalanga te nader.
“Dis koud tot baie koud oor meeste dele van die land... en die kouefront sal Limpopo en Mpumalanga teen 14:00 tref,” het hy gesê.
Volgens Mofokeng sal dit Saterdag bietjie warmer word.
Dit was baie koud in die noordelike binneland van die Wes-Kaap en Oos-Kaap. Dis ook koud in Lesotho en die suidelike Vrystaat, het hy gesê.
Mofokeng sê dis ook koud in die suide van Gauteng – van Johannesburg tot Vereeniging – en koelerig in Pretoria.
Die weerdiens beskou “baie koud” as enigiets onder 10°C, “koud” is tussen 10°C en 17°C en “koelerig” is temperature tussen 18°C en 25°C.
Mofokeng sê die reën in Bloemfontein sal teen Vrydagoggend begin bedaar, terwyl ligte reënval in die Oos-Kaap en suidelike dele van die Vrystaat verwag word.
Reën word Saterdag vir KwaZulu-Natal voorspel en nóg reën kan Sondag vir die provinsie se noordkus verwag word.
Ligte sneeuval kan in die Lesotho-gebied voorkom.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA