Kotzé-soektog: 'Deurbraak is naby'
2012-01-09 20:00
Johannesburg – Die inhegtenisneming van ‘n man wat na bewering ‘n grusame aanval op sy vervreemde vrou gereël en sy tiener-stiefseun doodgemaak het, is naby, het die polisie in Limpopo Maandag gesê.
“Ons is op die punt van ‘n deurbraak, die inhegtenisneming is naby,” het brig. Hangwani Mulaudzi gesê oor Johan Kotzé.
“Dit is ‘n kwessie van tyd,” het hy gesê.
Vroeër Maandag het die polisie die Valke en die misdaadintelligensie-eenheid by die soektog betrek.
“Ons is nou op die man se hakke, maar ek kan nie verdere inligting gee nie, aangesien dit die ondersoek kan belemmer.”
Die 50-jarige Kotzé het glo drie mans, wat sy werkers was, verlede Dinsdag gedwing om sy vervreemde vrou by sy huis in Modimolle te verkrag en aan te rand.
Volgens nuusberigte en polisieverslae het Kotzé ook sy 19-jarige stiefseun na die huis gelok en hom met sy aankoms doodgeskiet.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA