Kotzé se verhoor duur voort
2012-11-28 07:10
Johannesburg – Die verhoor van die man wat die "Modimolle-monster" genoem word, word Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof hervat.
Johan Kotzé word daarvan beskuldig dat hy drie mans gehuur het om sy eksvrou, Ina Bonnette te verkrag en dat hy sy stiefseun Conrad op 3 Januarie in sy huurhuis doodgeskiet het.
Dinsdag het die hof gehoor Kotzé blameer sy eksvrou vir sy dade.
Dirk van der Merwe, Kotzé se vriend, het getuig dat Kotzé hom op 3 Januarie vanjaar gebel het.
Hy het gehuil en gesê hy wil nie meer leef nie. Hy het gesê Van der Merwe sal hom nooit weer sien nie en moet hom ook nie kom soek nie.
Kotzé het hom weer die aand ná die misdaad gebel.
Toe Van der Merwe hom gevra het "wat de duiwel hy gedoen het," het Kotzé gesê dit is alles sy eksvrou, Ina, se skuld.
Kotzé het gesê hy het twee keer probeer selfmoord pleeg, maar kon dit nie regkry nie.
Van der Merwe het Kotzé aangeraai om hom aan die polisie oor te gee en het selfs aangebied om saam met hom te gaan, maar Kotzé het gesê hy moet eers 'n paar take afhandel.
Kotzé het na bewering die drie mans wat hy gehuur het om in sy tuin te werk, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka, gedwing om Bonnette te verkrag terwyl sy aan 'n bed vasgemaak en haar mond toegeplak was.
Al vier staan tereg op aanklagte van ontvoering, verkragting, aanranding en poging tot moord.
Kotzé is op 11 Januarie in hegtenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA