Kotzé-saak: Vrou hoef nie mans uit te ken
2012-01-17 07:01
Modimolle – Die vrou van Modimolle wat glo deur drie mans verkrag en na bewering deur haar vervreemde man wreed aangerand is, sal nie blootgestel word aan ’n polisie-uitkenningsparade nie.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê Ina Bonnette (42) sal nie haar drie vermeende verkragters op ’n uitkenningsparade hoef te identifiseer nie. “Daar is genoeg bewyse en getuienis wat tydens uitwysings uitgekom het,” het Otto gesê.
Bonnette het toestemming gegee dat haar naam gebruik mag word.
Nog twee van die vermeende verkragters het gisteroggend vlugtig in die dorp se landdroshof verskyn. Hulle word glo verbind met die beweerde groep-verkragting van Bonnette.
Adv. Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer, het gesê die twee mans, onderskeidelik 34 en 38 jaar oud, sal op 10 Februarie saam met Johan Kotzé en ’n 42-jarige man in die hof verskyn.
Al vier beskuldigdes bly in aanhouding.
Die drie mans is op Hammanskraal, buite Pretoria, in hegtenis geneem.
Hulle sal ook op 17 aanklagte, waarvan sewe van verkragting, teregstaan. Die res van die aanklagte is moord, aanranding, menseroof, seksuele aanranding, seksuele aanranding met die doel om ernstig te beseer en sameswering tot verkragting. Al vier mans staan ook tereg weens poging tot moord, die rig van ’n vuurwapen, roof en diefstal.
Ingevolge die Wet op Seksuele Misdrywe mag die drie mans nie geïdentifiseer word voordat hulle gepleit het op die aanklagte teen hulle nie. Landdros Hannes Stoffberg het Vrydag gelas dat hulle nie geïdentifiseer mag word nie.
Skaars ’n handjievol mense was Maandagoggend buite die Modimolle-landdroshof.
Bonnette is op Dinsdag 3 Januarie deur die drie mans glo om die beurt in Kotzé se huurhuis in Kerkstraat in Modimolle verkrag.
Sy is daarna langer as twee uur glo deur Kotzé, haar vervreemde man, met verskeie voorwerpe gemartel. Dele van haar borste is afgesny.
Bonnette moes ook glo hoor hoe Conrad Bonnette (19), haar seun, by Kotzé pleit om hom nie te skiet nie.
Conrad is in sy been, bors en agterkop geskiet.
Kotzé is agt dae ná die grusame voorval in hegtenis geneem toe hy by mnr. Dirk van der Merwe, ’n vriend van hom, se huis in Modimolle opgedaag het.
Terwyl die polisie landwyd na hom gesoek het, het hy in ’n bos buite die dorp geskuil. Hy het vermoedelik in sy Toyota Fortuner gebly.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld