Kotzé-saak: Tweede medebeskuldigde vas
2012-01-13 10:25
Kaapstad – Die tweede van drie plaaswerkers wat na bewering op Johan Kotzé se aandrang sy vervreemde vrou verkrag het, is deur die polisie vasgetrek, het die eNews-kanaal berig.
"Ons kan bevestig dat die polisie om presies 09:00, terwyl Johan Kotzé in die hof verskyn het, die tweede verdagte aangekeer het," het eNews se Karyn Maughan by die Modimolle-landdroshof berig.
"Hy is nou in aanhouding en word deur die polisie ondervra," het sy gesê.
Kol. Mogale Ramatseba het die inhegtenisname bevestig, en gesê die werker is om 09:00 in Makapanstad, naby Hammanskraal, noord van Pretoria, aangekeer.
Volgens Maughan kon die polisie nog nie duidelikheid gee oor wanneer die verdagte in die hof sal verskyn nie, maar dat dit waarskynlik Maandag sal wees.
Die polisie hoop ook om die derde plaaswerker voor die einde van die dag aan te keer.
"Hulle sê hulle behoort hom teen die einde van die dag in aanhouding te hê. Hy sal hopelik Maandag saam met die ander man verskyn."
Maughan het gesê die hofverskyning het sonder voorval verloop. Die saak is tot 10 Februarie uitgestel.
Op die vraag oor hoe Kotzé in die hof gelyk het, het Maughan gesê hy het nie op vrae reageer nie, en direk na die kameras gestaar. Hy het ook geselsies met sy medebeskuldigde probeer aanknoop.
"Kotzé het geen emosie getoon nie. Hy het wel een of twee keer met sy hande in sy gesig gesit, maar die meeste van die tyd was hy emosieloos," het Maughan gesê.
'n Uitkenningsparade moet nog gehou word, dus kan die medebeskuldigde se naam nie bekend gemaak word nie.
Intussen word Kotzé se vermoorde stiefseun, Conrad Bonnette, Vrydag ter ruste gelê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24