Kotzé-saak: Derde werker vas
2012-01-14 09:15
Johannesburg – Die derde van die drie werkers wat na bewering op Johan Kotzé se aandrang sy vervreemde vrou verkrag het, is vasgetrek, het die polisie in Limpopo gesê.
Die 30-jarige man is Saterdag in 'n klopjag voor dagbreek in Hammanskraal in hegtenis geneem, het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Hy is die laaste van die drie plaaswerkers wat glo deur Kotzé gedwing is om deel te neem aan die aanval op Ina Bonnette.
Kotzé, wat sedert die aanval op 4 Januarie deur die polisie gesoek is, is Woensdag in hegtenis geneem. Die eerste van die werkers is later op dieselfde dag aangekeer.
Kotzé en die eerste plaaswerker het Vrydag in die Modimolle-landdroshof verskyn, en die saak is uitgestel tot 10 Februarie.
Die polisie het omstreeks 09:00 Vrydag die tweede werker in Hammanskraal aangekeer, en gesê hulle is op die spoor van die derde werker.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA