17 aanklagte teen Kotzé, medebeskuldigde
2012-01-13 09:55
Modimolle – Johan Kotzé en sy medebeskuldigde het Vrydagoggend vlugtig in die Modimolle-landdroshof verskyn en sal tot hul volgende verskyning in Februarie in aanhouding bly.
Kotzé (50) en sy 42-jarige medebeskuldigde staan tereg op 17 aanklagte, waaronder moord, sameswering tot verkragting, verkragtig, seksuele aanranding, ontvoering en aanranding.
Hulle sal op 10 Februarie weer in die hof verskyn.
Die hof sê die identiteit van Kotzé se medebeskuldigde man nog nie uitgereik word nie aangesien ‘n uitkenningsparade nog gehou moet word.
Kotzé word daarvan beskuldig dat hy drie werkers met ‘n vuurwapen gedreig het om sy vervreemde vrou te verkrag. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die vrou se tienerseun doodgeskiet het.
‘n Massiewe soektog na Kotzé is van stapel gestuur nadat hy op 4 Januarie ná die beweerde aanval in ‘n Toyota Fortuner op die vlug geslaan het.
Kotzé is Woensdagmiddag in Modimolle in hegtenis geneem nadat ‘n plaaslike vrou hom herken en die polisie in kennis gestel het.
Een van die werkers, wat daarvan beskuldig is dat hy die vervreemde vrou aangeval het, is dieselfde dag in Makapanstad naby Hammanskraal, noord van Pretoria, aangekeer.
Die ander twee medebeskuldigdes is steeds soek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA