Kotzé dalk na ander tronk geskuif
2012-11-30 15:17
Pretoria – Die sogenaamde Modimolle-monster, Johan Kotzé, sal verdere psigiatriese toetse in Bloemfontein ondergaan voor sy verhoor volgende jaar hervat word, het die Pretoriase hooggeregshof Vrydag gehoor.
Die verhoor is tot 4 Februarie aanstaande jaar uitgestel omdat die staat se laaste twee getuies nie beskikbaar is nie.
'n Dokter wat 'n kenner is op die gebied van seksuele geweld moet nog getuig.
'n Spesialis wat Kotzé se eksvrou, Ina Bonnette, ná die aanval behandel het, moet ook nog getuig.
Regter Bert Bam het beslis dat Kotzé na die Grootvlei-gevangenis naby Bloemfontein oorgeplaas word vir verdere sielkundige en psigiatriese waarneming.
Hy het dit duidelik gemaak dat Kotzé se oorplasing sal afhang van die beskikbaarheid van verblyf by die tronk.
Kotzé se advokaat, Bernard Bantjes, het vroeër aan die hof gesê Kotzé bevraagteken die verslag van drie sielkundiges by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal wat bevind het hy is geskik om verhoor te word.
Hy het gesê die kwessie van Kotzé se verantwoordbaarheid sal op 'n patologiese en nie-patologiese basis betwis word.
Kotzé, Andries Sithole, Pieta Mohlane, en Frans Mphaka word daarvan beskuldig dat hulle Kotzé se 19-jarige stiefseun, Conrad, op 3 Januarie by sy huurhuis in Modimolle vermoor het.
Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle Kotzé se eksvrou vroeër daardie dag ontvoer, erg aangerand en herhaaldelik verkrag het, en ook probeer het om haar te vermoor.
Kotzé het geweier om te pleit en Bam het namens hom 'n pleit van onskuldig aangeteken. Sy drie mede-beskuldigdes het onskuldig gepleit op al die aanklagte.
Hulle beweer Kotzé het hulle gedwing om deel te neem aan die aanval op Bonnette en dat hulle slegs voorgegee het om haar te verkrag.
Al vier bly in aanhouding.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA