Kotzé binnekort in hof
2012-01-11 22:49
Johannesburg – Johan Kotzé, wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n grusame aanval op sy vervreemde vrou gereël het en sy tiener-stiefseun doodgeskiet het, sal Vrydag in die Modimolle-landdroshof verskyn, het die polisie in Limpopo gesê.
“Hy word nou aangehou en speurders ondervra hom voor sy hofverskyning Vrydag,” het Brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Kotzé is Woensdag kort voor 12:00 in hegtenis geneem. The Star het berig hy is in hegtenis geneem nadat hy in ‘n hoëspoed-jaagtog met die polisie betrokke was en ‘n ongeluk met sy motor gemaak het.
“Hy was die hele nag aan die vlug. Hy is na ‘n hospitaal geneem omdat hy gedehidreer was nadat hy sy motor agtergelaat het,” het Mulaudzi gesê.
Kotzé (50) word sedert die aanval en moord in Modimolle op 4 Januarie gesoek.
Hy het na bewering drie mans – vermoedelik sy werkers – met gewere gedreig en gedwing om deel te neem aan die aanval. Kotzé word ook daarvan beskuldig dat hy die vrou se seun doodgeskiet het.
Een van die drie werkers, ‘n 42-jarige man, is vroeër Woensdag in Makapanstad naby Hammanskraal in hegtenis geneem.
“Die man sal Vrydag in die Modimolle-landdroshof verskyn,” het Mulaudzi gesê.
Die ander twee mans word nog gesoek.
Die polisie het Dinsdagnag Kotzé se Toyota Fortuner in Modimolle gevind.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA