Kotzé: SAPD wil verdagtes se hulp hê
2012-01-11 07:01
Limpopo – Die polisie het Dinsdag die drie mans wat glo gehuur is om ’n vrou van Modimolle te verkrag, gevra om na vore te kom om met die ondersoek te help.
Brig. Hangwani Mulaudzi, kommunikasiehoof van die polisie in Limpopo, het gesê die drie mans was ook slagoffers van ’n misdaad.
“Ons weet nie wat van hulle geword het nie. Hulle is moontlik getraumatiseerd.
“Hulle het niks te vrees nie. Ons wil hê hulle moet ons met die ondersoek help.”
Beeld verneem die drie mans is glo Zimbabwiërs wat onwettig in die land is.
Daar is steeds g’n teken nie van Johan Kotzé (50), wat die mans glo gehuur het om die vrou te verkrag. Hy het glo Conrad Bonnette (19), sy stiefseun, doodgeskiet.
Hy is al langer as ’n week op vlug.
Rex Bonnette, Conrad se pa, gaan oudbrig. Piet Byleveld vra om met die ondersoek te help.
Die vrou is Dinsdag uit ’n Pretoriase hospitaal ontslaan. Sy moes operasies vir inwendige beserings kry. Sy is nou in ’n plek van veilige bewaring.
“Sy is baie moeg en wil met niemand praat nie,” het ’n vriend van haar gesê.
Beeld verneem Kotzé se selfoonsein is kort ná die treurspel in die Radium-gebied tussen Bela-Bela (Warmbad) en Pretoria bespeur.
Die selfoonsein het terugbeweeg Modimolle toe.
Die foon is daarna afgeskakel.
Geen geld is sedert Dinsdag verlede week uit Kotzé se bankrekening onttrek nie.
Hy het ook die opsporingstelsel in sy wit Toyota Fortuner (DCS 392 FS) ontkoppel.
“Hy is ’n arrogante man. Iemand help hom beslis,” het iemand na aan die ondersoek Dinsdag gesê.
Intussen het die gemeenskap van Modimolle begin om geld in te samel vir Bonnette se begrafnis en die vrou se mediese koste.
“Die begrafnis kos meer as R14 000 en ons het nou maar R4 000,” het Elize Coetzer, ’n gesinsvriendin, gesê.
Bonnette word oormôre om 11:00 uit die Hervormde kerk in Bela-Bela begrawe.
Enigiemand met inligting kan kol. Mabisela Mohale by 082 565 8606 bel.
Die fonds vir die Bonnette-gesin is deur PSG Konsult Financial Planning by Investec Private Bank geopen.
Bel Coetzer by 082 682 5396 vir meer inligting.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld