Kotzé: Laaste verdagte aangekeer terwyl hy slaap
2012-01-16 08:05
Modimolle – Al die mans wat na bewering betrokke was by die grusame aanval op Ina Bonnette waartydens sy om die beurt verkrag is en haar seun doodgeskiet is, is nou agter tralies.
Twee van dié mans, wat onderskeidelik Vrydag en Saterdagoggend op Hammanskraal vasgetrek is, sal Maandag in die landdroshof in Modimolle verskyn.
Hulle sal op aanklagte van verkragting en ontduiking van inhegtenisneming verskyn, het brig. Hangwani Mulaudzi, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, Sondag bevestig.
Johan Kotzé (50) – Bonnette (42) se vervreemde man – en ’n vierde man het Vrydag in dié hof op 17 aanklagte, waaronder moord, poging tot moord en sewe van verkragting, verskyn.
Hulle is steeds in hegtenis.
Dié mans se inhegtenisneming kom nadat Bonnette op 3 Januarie in Kotzé se huurhuis om die beurt deur drie werkers verkrag is. Hulle is na bewering deur Kotzé gehuur om dit te doen.
Kotzé het haar, ná die verkragtings, glo twee uur lank gemartel. Daarna het Kotzé na bewering sy stiefseun, Conrad Bonnette (19), na die huis laat kom en hom drie keer geskiet.
Mnr. Bonnette is op die toneel dood.
Die polisie het ’n week lank na Kotzé gesoek terwyl hy sowat 2 km buite dié dorp weggekruip het.
Die ander drie mans is almal op Hammanskraal, noord van Pretoria, gevang.
Volgens Mulaudzi is die laaste verdagte, wat 30 jaar oud is, Saterdagoggend omstreeks 04:30 in sy bed gevang terwyl hy vas aan die slaap was.
Die drie mans, wat glo deur Kotzé betaal is vir die aanval, is vriende en het ook saam gewerk, het Mulaudzi gesê.
Hy het gesê dit was “goeie polisiewerk” wat gelei het tot dié mans se inhegtenisneming.
“Die ouens het goed gedoen,” het Mulaudzi gesê met verwysing na die polisiebeamptes wat by die grusame saak betrokke was.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad