Korrupsie, luiheid taboe, sê Meshoe
2011-03-28 06:59
Johannesburg - Die ACDP se fokuspunt vir die munisipale verkiesing is om “eerlike, aanspreeklike raadslede” te hê.
Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het gister gesê hy wil verseker dat dié party se raadslede “pro-aktief en reaktief optree en wys dat hulle omgee vir die gemeenskapslede wat hulle dien”.
“Raadslede moenie korrup of lui wees nie.”
Met die bekendstelling van die ACDP se verkiesingsmanifes Saterdag in Daveyton aan die Oos-Rand het Meshoe gesê dié party wil “plaaslike mense help om plaaslike oplossings vir plaaslike probleme te vind”.
Die party wil “volhoubare alternatiewe” bied en fokus op agterstande met dienslewering en die instandhouding van bestaande infrastruktuur.
Hy het gesê dié party gaan skole help om probleme met bendes en dwelm- en alkoholmisbruik uit te wis. “Ons voel dis nodig om regulasies oor dobbelary, sekswinkels, minderjariges wat drank gebruik en ongelisensieerde drankwinkels te hersien om sodoende te verhoed dat mense by misdaad betrokke raak.”
Meshoe wil toesien dat basiese dienste, insluitend belasting, gedesentraliseer word.
Dié party se manifes fokus onder meer op dienslewering, werkloosheid, infrastruktuurontwikkeling, gesondheid en onderwys. Hy wil ook klein sakeondernemings ondersteun.
Die stimulasie van plaaslike ekonomiese ontwikkeling sal die probleem van armoede en werkloosheid help aanpak.
Die ACDP wil dít doen deur nywerhede met belastingafslag aan te moedig om na plattelandse gebiede te skuif.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger