'Korrupsie is die vyand' – Radebe
2012-01-26 17:43
Johannesburg – Die stryd teen korrupsie moet net so belangrik wees soos wat die stryd teen apartheid was, het Jeff Radebe, minister van justisie, gesê.
“Korrupsie wil die vlam blus wat op alle Suid-Afrikaners skyn; die vlam wat vryheid en veiligheid aan almal belowe; die vlam van demokrasie,” het hy Donderdag gesê by die bekendstelling van Corruption Watch in Johannesburg.
Dié inisiatief is deur die vakverbond Cosatu van stapel gestuur.
Radebe meen Suid-Afrikaners moet korrupsie as “ons vyand verklaar soos wat apartheid [ons vyand] was.”
Hy het gesê die regering sien uit na die positiewe bydrae wat Corruption Watch in Suid-Afrika kan lewer.
Hy het bygevoeg dat die media toegejuig moet word aangesien korrupsie in die regering ontbloot word.
“Ons waardeer nie altyd die media se rol as ‘n waghond nie. Ons wil hê die media moet aanhou in sy poging om korrupte individue bloot te stel.”
Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu, het gesê ‘n vrye media is een van die kern metodes waarop korrupsie in die land oorwin word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA