Korrupsie in polisie só vasgevat
2011-09-14 07:03
Kaapstad – Eenhede wat deur Jackie Selebi, veroordeelde voormalige nasionale polisiehoof, gesluit is, gaan teruggebring word om korrupsie en bedrog in die polisiediens te ondersoek.
Polisiebeamptes sal ook binnekort aan leefstyl-oudits onderwerp word.
Dié verwikkelinge is vervat in ’n nuwe, omvattende teenkorrupsie-strategie wat moet help om die publiek se persepsie dat die polisie korrup is, te verander.
Dit is Dinsdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie voorgelê, waar twee ander belangegroepe gepleit het vir dringende ingryping om korrupsie in die openbare en private sektor te beveg.
Gareth Newham, hoof van die Instituut vir Sekerheidstudie(ISS) se misdaad-en-justisie-program, het ’n gros statistieke van verskeie navorsingsprojekte van die afgelope vier jaar aan LP’s voorgelees wat toon byna die helfte van stedelike inwoners het min of geen vertroue in die polisie nie.
Die ISS het in ’n meningsopname in 2009 bevind selfs polisiebeamptes dink korrupsie in die polisiediens is wydverspreid – tot 85% van beamptes by drie polisiekantore in Gauteng het gemeen dit is ’n reuse-probleem. Meningsopnames deur ander nieregeringsorganisasies het soortgelyke bevindings opgelewer.
“Verskeie bronne suggereer korrupsie in die polisie kom algemeen voor. Mense se persepsies is baie negatief en dis kommerwekkend. Daar is duidelik ’n probleem,” het Newham gesê.
Hy en Lawson Naidoo van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het die polisie se nuwe teenkorrupsie-strategie verwelkom, maar komiteelede was minder beïndruk.
Sindi Chikunga, ANC-LP en komiteevoorsitter, het volgehou daar is ’n gebrek aan aanspreeklikheid en dat beamptes wat hul plig versuim of misdade pleeg dikwels ongestraf bly. Ook eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het aangevoer senior polisiebestuurders blyk onaantasbaar te wees.
Volgens lt.genl. Bonang Mgwenya, adjunkhoof van die polisie, is 479 tugsake wel in die 2010-’11-boekjaar teen beamptes ingestel, maar sy kon nie sê hoeveel van hulle is skuldig bevind, afgedank of strafregtelik vervolg nie.
Mgwenya het gesê navorsing oor hoe groot die teenkorrupsie-eenhede moet wees en die koste daaraan verbonde, sal binne ’n paar maande afgehandel wees.
Daar is ook planne om verliese weens korrupsie en bedrog van skuldige beamptes te verhaal en om korrupsiebestryding by senior bestuurders se prestasie-ooreenkomste in te sluit.
Naidoo het met verwysing na die Glenister-uitspraak gepleit dat ’n nasionale dialoog begin word oor watter soort instelling nodig is om korrupsie te beveg.
In dié uitspraak het die konstitusionele hof in Maart in ’n meerderheidsbesluit bevind die wetgewing wat die Valke in die lewe geroep het, is ongrondwetlik omdat dit dié elite-ondersoekeenheid nie voldoende teen politieke inmenging beskerm nie. Die regters het die parlement 18 maande gegee om dit reg te stel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger