Korrupsie gaan SA kelder – Tutu
2011-03-10 08:00
Kaapstad. – Van pres. Jacob Zuma en die Gupta-broers tot mnr. Jimmy Manyi en sy omstrede uitsprake het gister in emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se kanselierslesing deurgeloop.
Dit was gister sy laaste jaarlikse lesing as kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland. Ná 23 jaar tree hy vanjaar uit die amp.
Tutu het gesê geen politieke party kan die monopolie op die sukses van die vryheidstryd in Suid-Afrika hou nie. “Ons helde het aan verskeie politieke formasies behoort.” Volgens hom mag daar nie in die gesigte van mense gespoeg word wat juis vir die vryheid van die land geveg het nie.
“Talle kundige mense sit tans op die kantlyn omdat hulle nie die regte politieke verbintenis het nie.”
Hy het mense gemaan om versigtig te wees sodat mense nie sal sê ‘onder apartheid was ons nie wit genoeg nie. Nou is ons nie swart genoeg nie’. “Dit is die weg van verdoemenis. Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon.”
Met verwysing na Zuma het hy gesê hy hou baie van hom, hy is ’n “minsame en warm mens”.
“Maar ek dink dit sou beter gewees het as ’n hof hom onskuldig (met betrekking tot die wapenskandaal) kon bevind het ...
“Die regering het tog sekerlik niks om te vrees van ’n regterlike ondersoek na die wapenskandaal nie. Dit is ’n onnodige albatros (om die nek) wat groot twyfel skep.”
Oor korrupsie het hy gesê: “Ons land met sy groot potensiaal word tot ondergang gedwing deur korrupsie, wat in sommige gevalle heeltemal blatant voorkom.”
Hy het gesê dit is moontlik, maar baie onwaarskynlik, dat daar geen verband is nie tussen Zuma en die mediese parool van die gholfspelende Schabir Shaik, wat veronderstel is om met een voet in die graf te staan.
So ook die Gupta-familie se lonende saketransaksies waarvan die president se seun een van die begunstigdes is . “Dit is moontlik dat daar geen verband is nie, maar dit maak my bekommerd.”
Oor Manyi se uitsprake en die rassespanning wat daarmee gepaardgaan, het Tutu gesê dit maak hom “vreeslik hartseer.”
Hy het die saak verpersoonlik deur te verduidelik dat sy stamboom daarop dui dat hy eintlik tot die San-stam behoort. “Dit beteken dat ek dan eintlik bruin is. Waar los dit my dan?”
Hy het gesê hy sukkel om te aanvaar dat die R100 miljoen vir die jeugfees – “beswaarlik ’n getuienis van intellektuele diepte” – ’n goeie belegging was.
Hy het die voorgestelde nuwe mediawet as ’n ramp beskryf en gesê dit stuit hom heeltemal teen die bors.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld