Kontemporêre kuns is gereeld omstrede, sê galery
2012-05-25 16:59
Johannesburg – Vir ‘n goeie kontemporêre kunsgalery om suksesvol te wees kan hy nie ‘n openlik politiese, godsdienstige of ideologiese agenda hê nie, het die Goodman-galery in Johannesburg Vrydag gesê.
"Ek is jammer oor die verdeeldheid wat die uitstalling veroorsaak het en ek wil herhaal dat dit nooit my bedoeling was om enigiemand seer te maak nie," het die direkteur van die galery, Liza Essers, gesê met verwysing na die polemiek oor Brett Murray se skildery The Spear.
“Nietemin lê die aard van kontemporêre kuns daarin dat werke soms omstrede is.”
Die galery het in ‘n verklaring gereageer op ‘n aansoek deur die ANC om die skildery, waarin pres. Jacob Zuma gewys word met sy gulp oop en sy penis wat uitsteek, verwyder moet word.
Die saak is Donderdag in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor en is onbepaald uitgestel. ‘n Ander datum sal nog vasgestel word.
The Spear het ‘n landwye debat ontlok toe dit verlede week in die galery tentoongestel is. Die kunswerk het deel uitgemaak van Murray se uitstalling Hail to the Thief II.
Die galery het sy deure gesluit nadat die skildery Dinsdag deur twee mense geskend is. Beide is in hegtenis geneem.
‘n Derde man is buite die galery vasgetrek nadat hy probeer het om die woord “respek” op ‘n muur te verf.
Al drie het in die hof verskyn en hul sake is uitgestel.
“Die beskerming van die integriteit en neutraliteit van die galery is van kardinale belang. Die Goodman-galery is ‘n plek waar die ryk en diverse stemme van ons land gehoor kan word,” het Essers gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA