Konstabel vas oor gesteelde motor
2010-02-25 11:41
Johannesburg - 'n Polisiekonstabel is in Mthatha in die Oos-Kaap in hegtenis geneem vir motordiefstal ná hy 'n gesteelde motor bestuur het.
Supt. Mzukisi Fatyela het gesê die motor is in Desember verlede jaar van die King Sabata Dalindyebo-munisipaliteit gesteel.
Die konstabel is Woensdag in hegtenis geneem.
"Die kleur van die motor is verander, maar 'n munisipale werker het merke waar die munisipaliteit se plakkers geplak was, gesien," het Fatyela gesê.
Die konstabel sal na verwagting Vrydag in die Mthatha-landdroshof verskyn.
In nóg 'n voorval by dié munisipaliteit is vier werknemers in hegtenis geneem vir bedrog.
Fatyela het gesê drie kassiere en hul oorsiener is Woensdag in hegtenis geneem vir bedrog wat verband hou met die verdwyning van R2,2 miljoen by die munisipaliteit in 2007.
– Sapa