Kongo-koors in BFN bekyk
2013-01-14 11:36
Johannesburg – Twee gevalle van die gevreesde Kongo-koors is die afgelope week in die Bloemfontein-gebied aangemeld.
Beeld berig Tommy Marx (44), ‘n sakeman van die stad, is in ‘n kritieke toestand in die Life-Rosepark Hospitaal nadat hy op Nuwejaarsdag met die virus besmet is, nadat ‘n bontpootbosluis hom op een van sy vingers gebyt het.
Johannes Ngwato (47), ‘n werknemer by die Kalkfontein-natuurreservaat naby Fauresmith, is Vrydag uit die hospitaal ontslaan nadat hy 11 dae in die mediese fasiliteit deurgebring het om behandeling vir die virus te kry.
Marx se vrou, Pikkie, sê haar man se klier onder sy arm het op 4 Januarie begin swel. Hy is in die hospitaal opgeneem toe sy toestand agteruitgegaan het.
Esmarie Cronje, ‘n woordvoerder vir die hospitaal, sê die man is in ‘n kritieke, maar stabiele toestand. Hy is ook aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA