Konfiskering van rybewyse 'nie wettig'
2011-12-28 16:53
Johannesburg – Daar is geen wettige manier vir verkeersbeamptes om motoriste wat padreëls oortree se rybewyse dadelik te konfiskeer nie, het Justice Project SA Woensdag gesê.
"Daar is geen klousule in die Padvervoerwet of wetgewing wat verkeersbeamptes toelaat om rybewyse te konfiskeer nie. Dis nie wettig nie," het die organisasie se voorsitter, Howard Dembovsky, gesê.
"Ek sê nie rybewyse moet nie gekonfiskeer word of opgeskort word vir ernstige oortredings nie – daar is 'n manier om dít te doen."
Hy het gesê slegs howe mag rybewyse opskort.
Sibusiso Ndebele, die minister van vervoer, het Dinsdag gesê motoriste wat vir oortredings in hegtenis geneem word "se rybewyse moet gekonfiskeer word en dit moet opgeskort of gekanselleer word."
Hy het dié uitlating gemaak in reaksie op die meer as 900 sterftes op Suid-Afrikaanse paaie tot dusver in Desember.
Die minister se woordvoerder, Logan Maistry, het Woensdag beaam dat die konfiskering van rybewyse deur howe behartig moet word.
"Ons kan niks doen sonder 'n wetlike basis nie," het Maistry gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA