Kommuniste jou Julius uit oor Jeremy
2009-12-11 08:07
Sarel van der Walt
Turfloop (Limpopo) – Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, is gisteroggend hier op die SAKP se spesiale nasionale kongres uitgejou.
Die uitjouery kom ná die onlangse moddergooiery tussen Malema en Jeremy Cronin, adjunkminister van vervoer en die SAKP se adjunk-sekretaris-generaal.
Cronin het aan e.tv gesê hy hoop Malema het ’n les geleer uit wat gister by die kongres gebeur het.
Malema se uitjouery was net ’n dag nadat dr. Blade Nzimande, die SAKP se sekretaris-generaal en minister van hoër onderwys, toegegee het die samewerking tussen die ANC en sy twee alliansie-vennote, die SAKP en die vakverbond Cosatu, is goed op nasionale vlak, maar daar is nog haakplekke op laer vlakke.
Nzimande het op sy beurt self gister in ’n toespraak van anderhalfuur lank skietgoed gegee vir ANC-lede wat ongemaklik is met die SAKP. Hy het ’n striemende aanval gedoen op kapitalisme en gesê sosialisme is die enigste weg vorentoe. Hy het ook ’n aanval gedoen op ANC-lede wat anti-kommunisties is.
Cronin het Malema onlangs in ’n nuusbrief van die SAKP gekritiseer oor die jeugliga se oproep dat die myne genasionaliseer word. Malema het teruggekap en Cronin ’n “wit Messias” genoem wat meen swart mense kan nie vir hulself dink nie. Op sy beurt het die SAKP-jeug Malema daarvan beskuldig dat hy “verstandelik vertraag” is.
Cronin en Malema het later die strydbyl begrawe, maar toe Malema en die ander jeugliga-leiers gisteroggend hier in die ouditorium van die Universiteit van Limpopo welkom geheet is, het die sowat 1 000 afgevaardigdes nie geskroom om hom uit te jou nie.
Die afgevaardigdes het op dieselfde wyse hul misnoeë gewys met die ander jeugliga-leiers, maar het verteenwoordigers van kommunistiese partye in lande soos China (wie se kommunistiese party op dieselde dag as die SAKP 88 jaar gelede gestig is), Kuba, Angola, Finland, Griekeland, Venezuela, Brasilië, Venezuela en Algerië toegejuig.
Nadat Malema laat opgedaag het, het hy eerste vir onder andere Tokyo Sexwale, minister van nasionale behuising en die ANC se verteenwoordiger by die beraad, gegroet.
Gwede Mantashe, voorsitter van die SAKP en sekretaris-generaal van die ANC, het na die burgerregte-organisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit gekap en hulle daarvan beskuldig dat hulle vir ’n “rassistiese agenda” veg.
Mantashe het gesê groepe soos AfriForum en Solidariteit is teen regstellende aksie gekant omdat hulle dit as omgekeerde rassisme beskou.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in reaksie gesê Mantashe se “rasbehepte uitsprake dien eerder as motivering vir dié organisasie om aan te hou stry vir vreedsame naasbestaan, wedersydse respek, billikheid en geregtigheid vir almal in die land”.
Dit is vreemd dat Mantashe AfriForum se billike aspirasies verkeerdelik as “rassisties” voorhou, terwyl “die SAKP se rassisme valslik as billike aspirasies voorgehou word”.
Kriel het gesê Mantashe se aanval is misplaas, veral omdat dat dit juis die SAKP/ANC-alliansie is “wat ’n rasbehepte ideologiese agenda op elke terrein van die samelewing wil afdwing”.
- Beeld