Kommissie ‘moet wegbly van vakbonde’
2009-11-19 08:15
Pieter du Toit
Kaapstad - Die tussentydse militêre dienskommissie (MDK) – wat aangestel is ná die bestorming van die Uniegebou deur gegriefde soldate vroeër vanjaar – is deur die minister van verdediging aangesê om weg te bly van vakbonde af.
Regter Ronnie Bosielo, voorsitter van die MDK, het gister aan verbaasde LP’s gesê dr. Lindiwe Sisulu het vroeër vandeesmaand beveel hulle mag hulle nie met vakbonde bemoei nie. Dít nadat die beweerde verdelende rol van vakbonde in die weermag die vernaamste rede vir die stigting van die MDK was.
Die MDK het gister aan LP’s terugvoering gegee oor die “tydbom van gegriefde soldate”.
Bosielo het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging gesê die MDK se mandaat is twee weke gelede skielik deur Sisulu aangepas en sy lede is uitdruklik verbied om ’n ondersoek na vakbonde in die weermag te doen óf uitsprake daaroor te maak.
Dié wending volg op verskeie sterk uitsprake deur beide Sisulu en pres. Jacob Zuma, wat gesê het militêre vakbonde het geen plek in die weermag nie en moet so gou moontlik verbied word. Die ANC se alliansievennote het hulle egter sterk daaroor uitgespreek en gesê hulle sal nooit toelaat dat soldate se vakbonde afgeskaf word nie.
Bosielo wou gister nie duidelike antwoorde op LP’s se vrae oor die verandering van mandaat verskaf nie. Hy het egter daarop gewys die konstitusionele hof het reeds by twee geleenthede beslis soldate mág aan vakbonde behoort.
“Die president en minister het dit duidelik gemaak hoe hulle oor vakbonde voel. Dit is egter nou nie meer ’n kwessie vir die MDK nie. Indien dit verder geneem moet word, is dit ’n saak vir die uitvoerende gesag en die parlement,” het hy gesê.
Die MDK het intussen ’n “dringende” tussentydse verslag oor soldate se werksomstandighede aan Sisulu gestuur waarin aanbevelings gedoen word oor onmiddellike korttermyn-ingryping, insluitend salarisvoorstelle.
Prof. Renfrew Christie, ook ’n MKD-lid, het gesê “hier kom ernstige moeilikheid” as die regering nie meer geld aan die weermag bestee nie.
Volgens hom het die staat in 1989 4,5% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan die weermag bestee, in 2000 sowat 2% en vandag 1,2%. “Die Wêreldbank beveel aan besteding moet meer as 2% wees. As jy ’n weermag wil hê, móét jy daarvoor betaal.”
-Die Burger