Kommissie beskerm ANC, sê Zille
2010-06-09 07:53
Die Burger
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) is ’n “instrument” waarmee die ANC homself beskerm, het me. Helen Zille, Wes-Kaapse premier, gister gesê.
Dit volg nadat die MRK verlede week bevind het die Kaapse stadsraad het inwoners van Makhaza in Khayelitsha se regte geskend deur nie toegeboude toilette aan hulle te verskaf nie.
Zille het op ’n nuuskonferensie by die Wes-Kaapse wetgewer die inhoud van ’n memorandum bekend gemaak wat sy aan die minister van samewerkende regering, mnr. Sicelo Shiceka, gestuur het. Daarin verklaar sy onder meer dat die Kaapse stadsraad die nasionale standaard vir sanitasiegeriewe verreweg oorskry.
Sy het gesê sy is stomgeslaan omdat die MRK reeds sy bevindinge in ’n nuusverklaring bekend gemaak het, maar dat die verslag waarin die bevindings vervat is nóg aan haar nóg aan Kaapstad se burgemeester, mnr. Dan Plato, gestuur is.
In antwoord op die vraag of sy vertroue in die MRK verloor het, het sy gesê sy bevraagteken die kommissie se motiewe.
“Ja, die MRK is ’n art. 9-instelling (wat die Grondwet moet beskerm), maar die ANC is berug daarvoor dat hy instrumente skep om homself te beskerm.”
Zille het die MRK se hoofkommissaris, adv. Lawrence Mushwana, uitgesonder en gesê in sy termyn as openbare beskermer het hy bekend gestaan as “die ANC-beskermer”.
Sy het verwys na ’n voorval toe hy nie teen die ANC opgetree het nadat dit rugbaar geword het dat R11?miljoen glo onregmatig in die party se verkiesingsbegroting “beland” het nie.
Mushwana is in September verlede jaar (ná sy termyn as openbare beskermer) in die plek van mnr. Jody Kollapen as die nuwe hoofkommissaris van die MRK aangestel.
Mushwana, ’n voormalige ANC-LP, is ’n tipiese voorbeeld van kader-ontplooiing, het Zille gesê.
* Intussen het ’n ingeligte wat vertroud is met die MRK se werksaamhede gesê normaalweg sal die kommissie eers ’n verslag aan die betrokke partye bekend maak voordat ’n nuusverklaring daaroor uitgereik word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger