Kommer, verwarring oor petrolvoorraad
2012-10-02 14:49
Johannesburg – Suid-Afrika se Petroleumbedryfsvereniging (Sapia) het bevestig dat die aflewering van brandstof van oor die land geraak word, terwyl motoriste van middernag af nóg meer vir brandstof sal moet betaal.
Volgens RSG is berigte van brandstof-tekorte veral uit KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap ontvang.
Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van Sapia, sê dit neem aansienlik langer om brandstof afgelewer te kry omdat vragmotorbestuurders nie geredelik beskikbaar is nie.
Hy het die publiek gevra om kalm te bly.
Sapia se uitlatings kom nadat Suid-Afrika se Fuel Retailers Association (FRA) vroeër gesê het die publiek hoef nie bekommerd te wees oor brandstofvoorraad nie.
“Ons lede het gebeurlikheidsplanne in plek... met die petrolprys wat vanaand styg, verwag ons ook dat mense na die pompe gaan jaag,” het MC Lamprecht, ‘n woordvoerder, gesê.
Hy sê ‘n tekort aan brandstof in een gebied, beteken nie dat die meeste dele in die land dieselfde geraak gaan word nie, het Sapa berig.
Die nuwe pryse van brandstof sal middernag in werking tree. 95-oktaan loodvrye petrol sal nou R12,20 per liter in Gauteng en R11,85 langs die kus kos.
Die prys van diesel (0,05% swael) is met 39,16 per liter verhoog, terwyl diesel met ‘n swael-inhoud van 0,005% met 40,16 sent per liter sal styg.
Volg Nuus24 op Twitter