Kommer oor wanorde by Khayelitsha-polisiestasies
2012-11-11 10:08
Johannesburg – 'n Kommerwekkende aantal polisiebeamptes by polisiestasies in Khayelitsha, Kaapstad, het hulle die afgelope paar maande aan wangedrag skuldig gemaak, het 'n polisieverslag gelui.
Tugstappe is tussen Januarie en Junie vanjaar teen altesaam 138 polisiebeamptes by die Khayelitsha-polisiestasie gedoen, vergeleke met 291 soortgelyke sake in die hele 2011, het City Press Sondag berig.
Altesaam 205 afsonderlike gevalle van tugstappe teen beamptes by die Harare-polisiestasie is in 2011 gerapporteer. Dié stasie het slegs 195 personeellede, wat beteken dat sommige beamptes meer as een keer vervolg is.
Tugstappe is in die eerste ses maande van 2012 teen 76 beamptes by die Harare-polisiestasie en 107 beamptes by Lingelethu-Wes gedoen.
Dié syfers vorm deel van 'n verslag wat deur 'n polisie-taakspan saamgestel is wat deur Riah Phiyega, die nasionale polisiehoof, gevorm is.
Die verslag het ook daarop gedui dat daar 'n dramatiese toename was in sake van huishoudelike geweld teen beamptes van polisiestasies in en om Khayelitsha.
Daar word ook verwys na 'n "groot aantal" verdagtes by Khayelitsha, Harare en Lingelethu-Wes wat vrygelaat word sonder dat sake ooit teen hulle geopen word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA