Kommer oor bloedtekort in SA
2013-01-05 09:57
Johannesburg – 'n Ernstige tekort aan bloed heers in die land, met net genoeg voorraad op nasionale vlak vir twee dae, het die media Saterdag berig.
Bloed sal weens die tekort slegs in "absolute noodgevalle" soos ongelukke oorgetap word, het Vanessa Raju, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB), aan die Saturday Star gesê.
Sommige beplande operasies en behandelings sal uitgestel word tot die voorraad weer stabiel is.
"Dis nie 'n goeie posisie om in te wees nie maar ons sal net oor die weg moet kom... tot die situasie verander," het sy gesê.
Raju het gesê daar moet onder normale omstandighede genoeg voorraad vir vyf dae wees.
"Mense is met vakansie en nou gaan party besig wees om hulle kinders vir die skooljaar gereed te kry, so bloed skenk is nie hoog op die lys van prioriteite nie, wat lei tot lae voorraadvlakke," het Raju aan die koerant gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA