Kommer heers oor voetgangers
2012-04-07 20:46
Johannesburg – Desbo Mohono, die Noordwes se LUR vir openbare veiligheid, het Saterdag haar kommer uitgespreek oor die aantal voetgangers wat sedert die begin van die Paasnaweek gesterf het.
"Tot dusver het ses mense hulle lewens verloor op die paaie van die Noordwes, en vier van hulle was voetgangers," het Simon Lesolang Mmope, departementele woordvoerder, in 'n verklaring gesê.
Hy het gesê die ignorering van spoedperke en roekelose bestuur is volgens die polisie die hoofoorsaak van die ongelukke.
"Drie van die ongelukke waar voetgangers dood is, was tref-en-trap-ongelukke, en met die ander een beweer die polisie die bestuurder was onder die invloed van drank."
Hy het gesê al vier die bestuurders is in aanhouding, en sal teregstaan op aanklagte van strafbare manslag.
Mohono het gesê sy is bekommerd oor die toenemende aantal voetgangers wat op paaie sterf.
"Ons moet verder en meer intens fokus op padveiligheidsonderrig, met 'n fokus op voetgangers. Ons kan nie ons oorlog, om die lewens van passasiers en bestuurders op ons hoofpaaie te beskerm, wen en aanhou om voetgangers te verloor nie," het Mohono gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA